Quantcast
Channel: For the Love of His Truth » vrye genade
Viewing all articles
Browse latest Browse all 2

Die Bloed van die Here Jesus Christus

$
0
0

horses in red sunset

Lay aside the garments that are stained with sin,

And be washed in the blood of the Lamb;

There’s a fountain flowing for the soul unclean,

O be washed in the blood of the Lamb!

Inleiding

Wat wil jy meer op dese aarde hê as DIT liewe mens; jou sonde vergewe en jou sondesmet afgewas in die kosbare bloed van die offerhande van die vlekkelose Lam van God. Wat ʼn rykdom, wat seëninge en dit onverdiend. Dit is soos die Woord van God sê: Meer kosbaar as silwer en goud, meer kosbaar as sukses en roem, meer kosbaar as aardse besittings en aansien, meer kosbaar as gesondheid en jeug. Om witter as sneeu te wees, om beklee te wees met reine wit, gewas in die kosbare bloed van die Lam, dit is die grootste geskenk ten alle tye, wat die grootste opoffering van alle tye geverg het; die “trane” van God oor Sy geliefde Seun wat sy lewe afgelê het, sy bloed gestort het vir sy Bruid sodat sy rein kan wees en sodat ons kinders van die lewende God kan wees.

Jes 54:5  Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word

Jes 61:10  Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.

 red-sunset behold

Die Bruid in die Ou Testament is dieselfde Bruid as in die Nuwe Verbond, al die besnedenes na die Gees.

Open 19:7  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.

Open 19:8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.

Dit is wat die bloed van Jesus Christus verrig het, ons verlos, ons is beklee met die geregtigheid van Jesus Christus, ons is rein soos ʼn bruid en verwag ons Jesus Christus soos ʼn bruid haar Bruidegom verwag, gereed, want ons is gewas in die bloed van die Lam en sien met loutere vreugde uit na die dag, net soos Jesaja dit gesien en ondervind het.

Die is die Bruid van die Oue en Nuwe Verbond, uit die Oue vooruitgesien na die vervulling van daardie teëbeeld van die bloed van die Lam en in die Nuwe sien kyk ons terug na die Lam geslag om ons te beklee met Jesus Christus. Dit is een Bruid, een bruilof, een gemeente.

Hos 2:19  (2:18) En Ek sal My met jou verloof tot in ewigheid en My met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.

Die verbond is soos ʼn huweliksverbond vir ewig, dit word bevestig al lank al voor die huwelik, die verlowing van God se betrokkenheid met die mens. Jesus Christus het dit moontlik gemaak deur die bloedoffer op die altaar van die kruis vir ons sonde; dat ons kan wees geregtigheid van God in Hom deur sy Genade vir die mens, soos voorafgaande versie profeteer.

Joh 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

Joh 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Joh 10:29  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

Wanneer God ons aan Jesus Christus gee, ons gewas in die bloed van die Lam dan weet ons dat alle heiliges sal volhard want God sal daarvoor sorg. Hy red volmaak en vir ewig. Die wat gewas is in daardie kosbare bloed het die versekering dat daardie bloed nooit tevergeefs aangewend word nie, nie deur enige iemand versmaai of verwerp sal word nie. Dit sal God nie toelaat nie, en dit word slegs toegepas, en is vooruitbestem vir die gelowiges. Dit is God se wil dat almal tot bekering kom, almal wat God vir Jesus gee.

Kom ons kyk wat Paulus sê:

2Co 11:2  Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel

Efe 5:23  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.

Efe 5:32  Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.

Ons word voorgestel aan Jesus Christus as Sy bruid, eers die individu, dan die kollektiewe gemeente, soos ʼn bruid, geen nasie nie, geen volk nie, maar ʼn gekose en voorbereide maagdelike bruid wedergebore uit Gees en gereinig in die Bloed van die Lam. ʼn Geestelike Israel wat weereens ʼn aardse tipe was van die vleeslike wat uitgedien was toe die ware vervulling gekom het. Dit is die appel van Sy oog, sy gesalfde wat niemand moet aanraak nie en nie sekere nasies of individue nie maar die Kerk.

1Pe 1:2  uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

Die klem moet egter op die offerhande van Jesus Christus wees en nie die Bloed nie, dit kan nie  as ʼn aparte entiteit geskei word van Jesus Christus nie. Dit was Sy bloed uitsluitlik vir vergifnis van sonde, soos die antitipe, die bloed van diere, die voorsmakie in die Oue Verbond van wat sou kom, die skaduwee van die werklike offer in die Nuwe Verbond.

Nooit weer sal daar diereoffers vir die mens se sonde daar wees wat net bedek nie nadat die volmaakte offer gebring is. Die skaduwees en tipes wat tydelik was sal nooit weer ingestel word nie daar word nie in trurat beweeg nie maar vorentoe na die voleinding van alles. Jesus kom weer en Hy kom gou om Sy bruid te kom haal.

Jerusalem sunset

Ou Testament

Kosbare Bloed.

Dit was kosbare bloed, en die bloed was en is daar slegs vir die reiniging van sonde, God het ʼn historiese betrokkenheid by die mens; dit is sy Verlossingsplan wat Hy met Sy Raadsbesluit voor die grondlegging van die wêreld voorsien het vir die sonde val van die mens, geskape na die ewebeeld van God. Dit was ʼn eenvoudige Skeppingsplan, (maar ʼn misterie vir die mens) dat God ʼn skepsel wil maak in Sy ewebeeld, so volmaak dat ons nie in ons verbeelding iets mooier kan indink nie. Wat is mooier as die beeld van die mens? Daardie pragtige vorm en pragtige ewebeeld van God. Met die status van integriteit met ʼn vrye wil is die mens geskape. Dit is dan so ʼn ernstige oortreding om die mooie beeld te besoedel met sondesmet wat die mens se liggaam en gees bevuil en in ʼn status corruptionis plaas, in sy totaliteit ʼn korrupte wese, haat hy God en is lief vir die erfsonde en smet van die duister. Die mooie beeld het in ʼn potensiële monster verander, so korrup sodat God nogtans beheer moet uitoefen anders sal die mens homself vernietig. So is daar dan gevalle waar God ʼn mens sal loslaat om sy volle sondige potensiaal te ontwikkel sodat ons kan sien waartoe die mens in staat is sonder God. God wys vir ons wat sonde kan vermag, sodat die ewige dood van diegene eer aan God sal bring. Daarvan het ons baie voorbeelde op die aarde.

Rom 9:17  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.

Almal het gesondig en ontbreek hulle aan die heerlikheid van God en die straf van die sonde is die dood, daaroor is ons gewaarsku, en die dood kom onverwags. Ons het almal daardie doodsvonnis gekry as jy nie gewas is in die kosbare bloed van die Lam nie sal jy nie verlossing van die doodsvonnis kry nie, sal jy in die dodesel op afwagting van jou vonnis bly.

Om die mens dan te verlos van hierdie toestand van verwerping van God se beeld, en in ʼn toestand van besmetting en duistere denkwyses vyandig teenoor Sy Skepper te verval, het ʼn misterieuse daad geverg van God se onbegryplike plan. Die misterieuse daad was bloed wat moes vloei. Lewensbloed wat uitgestort moes word om die mens se vervalle dooie toestand te herstel en ewige lewe te gee.

Dit het kosbare bloed geverg, van ʼn vlekkelose volle God/Mens alleen.

Dit is waarvoor daardie versoeningsoffer gebring moes word vir die mens in vyandskap met God. ʼn Daad van God se kant af uit genade en dit slegs vir die uitdelging van sonde in die mens wat God as sy kudde, die skape van Sy weide en volk aanneem.

Handelinge 20:28  Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het. 

Mat 1:21  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Daar is geen ander mistieke aanwending en toepassing van daardie bloed nie.

Die beeld van die bloed van diere offers vir die mens se sonde is slegs aangewend om die mens se sonde tydelik te bedek en dan ook so voor te berei vir dit wat gaan kom, daardie ewige offer. Dit was slegs daar om die mens sondeloos voor God te stel en om Sy afsku en wraak teenoor die sondige mens weg te keer. Dit is wat die skaduwees en tipes getipeer het, slegs dit weg te keer en nie weg te neem nie want die dier se bloed was net die tipe van dit wat sou kom, om God se wraak vir ewig weg te neem.

God vergewe nie net goedsmoeds nie, God moet sonde straf.

Heb 9:12  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

Ons is geregverdig deur die bloed, dit word aan ons toegereken en toegeken.

Die heilig bloed van Jesus Christus bedek ons, beklee ons en ons word geplaas in Christus en Sy Heiligheid en gehoorsaamheid red ons. Ons word heilig, sondeloos en gehoorsaam verklaar, ons word dit nie in onself nie, maar dit is ʼn daad buite ons. Ons bly onheilig, sondig en ongehoorsaam. Jy kan nie vir God werk en eer daarvoor kry nie, net Christus kon en het. Ons werke is soos vuil lappe voor ʼn Heilige God.

Rom 5:9  Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn

Ons is gered van die toorn van God, uit die dodesel geneem, sommige soos deur vuur heen gered, aan die Hand van God gehang oor die hel gereed om deur die toornige God gestraf te word, maar deur die bloed van Jesus Christus uit genade gered. Wat ʼn regverdige God! Dat Hy sommige red is ʼn misterie van genade. Dat die Regter vryspreek deur Sy Seun se dood op die martelkruis en sy wonde se bloed vrylik laat loop vir sommige is ʼn genade wat ons nie in hierdie leeftyd sal oplos nie en begryp nie. Dat dit nie vir almal beskore is nie is God se prerogatief en keuse en sy onbegryplike dade is nie vir ons mens om uit te pluis nie; maar net die Skrif onomwonde te aanvaar. Natuurlik sal ons as mens teen die prikkels skop en ons rasionalisering met ons nietige brein die sakie bespreek in kritiserende teoloë se bose kringe.

Rom 9:20  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?

red-sunset-landscape

Onskriftuurlike Toepassings van die Bloed deur Postmillennialiste veral Charismate word onskriftuurlik gebruik en weens leerdwaling is hulle Missio Praxis in wanorde.

Dit was eens en vir altyd, een daad, die bloed wat red, eenmalige toepassing vir die mens se sondige toestand. Nie soos wat die Roomse doen nie; elke week weereens die bloed offer in die vorm van transsubstansiasie waar Jesus weer en weer van sy bloed letterlik moet gee in hulle nagmaal. Kruisig Christus weer en weer. Dit is nie anders gesteld met diegene wat die bloed weer en weer gebruik vir sinnelose, nuttelose onskriftuurlike praktyke nie. Terug na Rome toe.

Daar is krag in die bloed van die Lam ja, dit is die wonderwerkende krag wat God met die mens versoen.

Ons moet altyd in gedagte hou dat die versoeningsoffer van bloed was volmaak, voltooid, geen bylassing of bydrae van ons kant af sal dit meer voltooid maak nie. Dit was kosbaar en dit was van God toegepas, sy alleenreg daarop. Ons het geen reg om daardie bloed as ʼn towerstaf geestelik te gebruik om iets in die geestelike ruimte te laat plaasvind nie om die eenvoudige rede dat dit volbring is waarvoor God dit gebruik het. Dit het ʼn ewige intersessie tussen ons en die hemel. God pas dit toe, God besprinkel, op wie Hy wil vir versoening, die sondige mens is nie meer ʼn priester wat die bloed besprinkel nie. As dit nie ʼn genadige God was nie, sou ons soos die Priester van ouds doodneergeslaan het want ons is sondig.

Om in hierdie bloed ʼn misterie en ander bedoeling te soek is godslasterlik en word dit as mistisisme verklaar wat nie God se bedoeling was nie, inteendeel, ons gebruik God se Naam lasterlik omrede ons doen wat God nie gesê het ons moet doen nie, ons gebruik Sy Naam en Bloed ydellik. Die Koning is kwaad want diegene voer nie Sy mandaat uit nie.

Jy kan maar self dink aan gevalle waar ons dit onkundig en godslasterlik toepas. ʼn Sondaar se nuttelose gebruik van die bloed as ʼn towerstaf, om ʼn oorlog te voer wat alreeds voltooid was, om bloed te smeer vir beskerming wanneer dit klaar gedoen is om stoflike tydelike dinge wat die mens begeer en besit te beskerm, om transformasie te bring waar net God dit doen, ʼn feëverhaal en optowering van die mistieke wat nie deel het aan God se raadsbesluit nie, is van daardie eksterne Skrif gebruike. As jy die kosbare bloed oor jou finansies of besittings pleit, dan is jy van alle mense dwaas en mag God jou genadig wees.

Kom ons kry tog klaar met ons dwaasheid, die dwaasheid van ons Triomferende bydrae, van ons Koninkryk stig deur ons offensiewe oorlog teen die duistere magte, ons Postmillenniale eskatologiese leerdwaling. Dit is ʼn teologie van glorie vir die mens en nie van die kruis nie, dit wat die mens verrig, daar waar die mens eer kry, wat sê dat Paulus en die Apostels in ʼn ry gaan staan om ons hand te skud wat ons verrig het. Nee, nee, nee, Eer kom God toe, verlossing is slegs van die Here, die kosbare bloed is vir die individu en nie vir nasies se transformasie nie, nie vir stede nie, nie vir Suid Afrika nie, want God het niks te doen met Suid Afrika nie, maar met individue, niks met Israel nie maar met individue se verlossing, sommige uit alle nasie tale en volke wat ʼn nuwe kudde ʼn nuwe volk, skape van Sy weide, dit is oor hierdie Abraham se nageslag waaroor God bekommerd is, die besnedes van die gees.

Heb 9:18  Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie;

Heb 9:19  want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel

Heb 9:20  en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het.

Heb 9:21  En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel.

Heb 9:22  En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.

Heb 9:23  Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie.

Heb 9:24  Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;

Heb 9:25  ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie,

Heb 9:26  want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.

Heb 9:27  En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,

Heb 9:28  so sal Christus ook, nadat Hy een maal geoffer is om die sondes van baie weg te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid.

Let wel die sondes van BAIE NIE VAN ALMAL nie.

 sunset technicolor tree

Betekenis van daardie Bloed.

Die voorloper, die skaduwee, die tipe, die teëbeeld was:

Die bloed van die dier was geslag om vir Adam en Eva se naaktheid te bedek, hulle sondigheid van binne en buite. Die eerste bloed wat gevloei het, was die van Abel en die bloed van Abel, roep uit vir vergelding.

Gen 4:10  En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.

Die Bloed van Jesus vir versoening want die vergelding is uitgedien in Jesus Christus en vir ewig roep dit uit van die aarde af na God en tree dit in vir ons vir versoening, (propitiation) en ons plek. Dit is die intersessie van Jesus Christus, Sy Bloed. Die bloed van die vlekkelose lammers geoffer in die Oue vir bedekking van die sonde van Die mens, sonder ophou, sonder dat dit die sonde wegneem, wysende na die uiteindelike Vlekkelose Lam van God, een offer, een Lam, een Bloedstorting, ewige verwydering van die sonde van die Lewensaflegging van die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Die lewe aflê vir Sy skape, vir Sy volk, sommige uit alle tipes mense, volke en rasse. Nooit weer sal daar ʼn altaar, ʼn tempel, diereoffers wees nie, want dit is eenvoudig vervul en voltooid in Jesus Christus. Diegene wat so dink, soos die Dispensasionaliste en Premillennialiste, dink godslasterlik.

1Pe 1:18  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

1Pe 1:19  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

1Pe 1:20  wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

Heb 9:14  hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

Dit is Jesus se bloed alleen wat versoening bring. Die dooie werke van die sondige mens word deur daardie bloed gereinig en verander na die werke van God, ons denkwyse verander deur die wedergeboorte wanneer God aan ons Sy Bloed openbaar wat dit verrig het vir ons in genade.

 table mountain evening

Die Bloed het die wedergeboorte moontlik gemaak.

Die Bloed van Jesus Christus het versoening, en sodoende verlossing gebring vir diegene in die Oue, voor die Kruisiging vir die wat glo na ʼn Redder wat sal kom met die Oerbelofte (Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.) en vir die Nuwe na die Kruisiging vir die wat glo in ʼn Redder wat gekom het. In die Oue het hulle Hom nie gesien nie maar vooruit geglo in ʼn daad wat gaan gebeur waarvan daar geskrywe is, in die Nuwe het ons Hom nie gesien nie maar glo in ʼn daad wat voltooi is en waaroor daar histories geskrywe is en aan ons openbaar was deur die Heilige Gees asof ons self dit aanskou het.

Die ware Lam van God se bloed wat vir versoening gevloei het, is genoegsaam vir almal maar word toegepas op die wat glo. Die Skape, Sy volk, sy uitverkorenes, sy gekose besnedenes na die gees, sy Kerk, sy kinders van die belofte van die verbond uit alle nasies en volke sonder uitsondering en keuse van ras, sy geestelike Israel.

Jy vra vir die kosbare bloed, vir die reiniging van jou sondige totale korrupsie voor God, jy vra vir daardie bloed om jou te bedek voor ʼn God wat jou moet straf. Jy vra vir Jesus Christus om jou te beklee en in Hom te plaas want buite Jesus Christus is jy verlore en onder God se toorn. God het sy Seun se bloed geëis as versoening voordat Sy toorn op jou uitgegiet is, God se toorn oor die sondige mens is op Sy Seun uitgegiet, Hy is verbrysel en gestraf, want straf moet God in sy geregtigheid. Jy is geregverdig deur daardie bloedoffer van Jesus Christus deur Jesus Christus, jy het nie bloed gehad nie want dit is besmet en sondig, jy kan gemartel word, gekruisig word, jou bloed uitvloei van jou wonde maar dit bring nie verlossing nie.

Jy kan niks bydra nie, nie werke of ʼn keuse wat jy maak nie, dit is iets buite jou wat versoening bewerkstellig het, niks inherente goedheid nie. Dink jy Suster Theresa is gered, dink jy Desmond Tutu is gered, dink jy Nelson Mandela die verlosser van Apartheid is gered, dink jy Spangenberg en Müller is gered? Kom ons wees maar getrou aan die Bybel. Het hulle Verlossingsbloed gehad.? Diegene van hulle beskou dit as ʼn mite. As jy glo dit is n mite dan is diegene tipes Antichriste.

Waar kom geloof dan in? Die geloof word geskenk sodat ons kan glo, so word geloof ʼn daad van die mens sodat ons kan sien hoe sondig ons is en versoening nodig het deur God verskaf in die Bloed van Sy Seun. Sonder die geloof kan ons dit nie begryp nie.

Rom 3:25  Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God

Die bloed is so kosbaar dat dit nie ʼn universele versoening bring nie, maar dit is vir Sy skape, sy volk, sy verlostes word dit gegee en toegepas. Dit is vir die Gelowiges wat geloof geskenk is. Dit word nie onodig aangewend op die wat verlore gaan nie. Indien dit vir die ongelowige beskikbaar was en hulle nogtans verlore gaan dan is dit ʼn ongoddelike sondige gedagte. Nee, dit was te kosbaar om versmaai te word deur die wat se bestemming ewige duisternis is.

Jy word nie gestraf omdat jy Christus en Sy bloedoffer verwerp het nie, nee, jy is dit nooit aangebied nie, jy word gestraf want jy is alreeds as ongelowige die doodsvonnis opgelê as sondaar. Indien jy dit aangebied word sal jy dit onteenseglik aanvaar. Sal jy wanneer jy in God se hand oor die helse vuur hang, sê: “los maar, ek wil nie gered word nie?” Nee, jy sal dit aangryp met alle mag. Die uitverkiesing is vir ons as mens nie begryplik nie, maar dit is in die Skrif en ons moet dit aanvaar. Niemand wat geloof geskenk is en homself as sondig sien en verdoem na die ewige straf sal die velossing verwerp nie. Diegene wat verlore gaan het homself nie gesien as sondaar nie, so ken ons baie van hulle. Dit is nogtans hulle skuld dat diegene verlore gaan wat ongelowig is. Genoeg om te sê dat eendag sal ons begryp wat God se Raadsplan beteken.

God is regverdig sê die Skrif, so ons moet dit aanvaar. Kom ons praat maar openlik oor wat die Skrif openbaar en moet dit nie vermy ter wille van diplomasie of ekumeniese wan beginsels of leerdwaling nie.

Mat 26:28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Let wel weereens: nie vir almal nie. Jesus het Sy lewe afgelê vir sy skape.

Vir die ongelowige word die Bloed nie toegepas nie. Dit word nooit toegepas op diegene wat dit sal verwerp nie, dit is nie vir diegene wat dit verwerp nie. Jesus Christus se bloed is so kosbaar dat God dit nie sal toelaat dat dit universeel van toepassing is nie, dat dit verspil en verwerp sal word nie. Nee, die bloed word nie verwerp nie, die Jesus Christus se bebloede liggaam word nie in God se arms vir jou aangebied om dan verwerp te word nie. Nee, die bloed is vir diegene wat dit onomwonde sal aanvaar, vir die wat God vir Jesus Christus skenk en nadertrek slegs uit Genade. Dit is ook vir die ongeborene soos Jakob, nie Esau, Johannes in die moederskoot, Isak, nie Ismael, Abel nie Kain nie. Gekose voor die grondlegging van die wêreld. Dit is die misterie van God wat ons nooit sal verklaar, redeneer en rasionaliseer nie. Dit sal ʼn misterie bly en ons kan dit net aanvaar wat die Skrif gedeeltelik daaroor en oor God openbaar. God openbaar slegs dit wat ons nodig het om tot Verlossing te kom, meer as dit het die mens nie nodig nie. Dit is dan waar daar ander onskriftuurlike toepassings kom met die bloed van Jesus Christus want die mens wil meer weet as wat vir hom bestem en nodig is.

Die geloof word geskenk in daardie bloedoffer, dit is die geloof wat dan ons oë oopmaak dat ons sonde weggeneem is en dat daar vir eens en vir altyd versoening bewerkstellig was en dat daar vir ons die boodskap van daardie versoening gegee is om dit te verkondig, dit is die boodskap van die kruis vir die mens wat die krag van verlossing is. Dit is daardie bloed wat die Satan verslaan het en die oorwinning gebring het en Satan se plek uit die hemel gewerp het. Dit is ons getuienis van die Bloed van die Lam van God, Satan kan ons nie aankla nie, kan ons nie beskuldig nie, kan ons nie kwaad aandoen nie, kan ons nie verhinder om die evangelie te verkondig nie.

Dit het alle vestings van die vyand afgebreek, alle voorvaders vestings, alle bindings, alle geskiedenis bindings afgebreek, alle vloeke en oorerflike generasie vloeke. Ons het geen bydrae te doen om dit toe te pas nie. Dit is klaar gedoen en ons moet net die evangelie verkondig en in geloof staan op daardie oorwinning.

Openbaring 12:11  En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.

Diegene wat dit nutteloos aanwend vir hulle aardse besittings en lewe, het die lewe en hulself lief. Ons behoort nie te glo aan ʼn lewe voor die dood nie menende dat dit die mite is, ons kyk na n ewige stad en lewe, na Bo.

Die oorwinning deur die bloed van die Lam het die angel van die dood weggeneem. Dood waar is jou angel. Die ewige lewe is moontlik gemaak.

Indien ʼn mens aanhou om buite die skrif inligting of nuwe openbaring te soek dan sal jy dit kry maar soos die Israeliete in die woestyn aangehou soek het vir vleeslike voedsel en dit gekry het maar armoede in hulle siel. Net so sal jy ʼn sielsgeraamte verkry, ʼn verhongerde siel, sonder die vlees van die Woord. Jy sal dink dit is voedsel by die tafel gedek met drek maar dit is nie die vaste spys wat die Woord jou voed nie. Ons kan nie buite die Skrif gaan nie vir eksperiënsiële ondervindinge en dit beskou as van God nie. Dit is Skrif Alleen en geen nuwe openbaring nie wat sal bylas by die Skrif nie. Of skryf jy en las by, by die Skrif? Jy kan nie die Woord en die Heilige Gees skei nie, of Jesus Christus van Sy bloed nie.

Dit is absoluut Godslasterlik om nou te kom en daardie bloed toe te pas, te smeer, in die geestelike oorlogvoering toe te pas oor nasies om transformasie te bring wat klaar gedoen is. Ek bedoel nie dat daar transformasie klaar plaasgevind het nie, maar deur die daad van Jesus Christus is daar potensiele transformasie en dit word gedoen in die lig van die oorwinning op die kruis dat daar nou die evangelie verkondiging kan plaasvind sonder dat die Satan daaraan iets kan doen. Natuurlik sal die Satan dit wil verhinder, maar hy kan slegs doen dit wat God hom toelaat om te doen. Indien ons dit so beskou as ons mandaat om as middelaar (bose gedagte) op te tree deur so oorlogvoering te doen dan sien ons die bloed van Jesus Christus, die Kruisdood, die daad van God onvoldoende; want ons moet ʼn onskriftuurlik bydrae doen, want God het nie ʼn voltooide werk gedoen nie.

Ons as mens sal nooit enige eer kry nie, aan God alleen die eer. Die Postmillenniale sienswyse is dwaallering en het praktiese onvanpaste, onskriftuurlike, praktyke wat nie aan God Eer bring nie. Dit het geen geestelike uitwerking en is onkundig, geen bydrae by die evangelie nie en is ʼn nuttelose mors van lering, tyd, geld en bring mense in ʼn desepsie met die verkondiging van ʼn ander evangelie wat nie God se Raadsbesluit is en was nie. Dit werke sal deur vuur verbrand word en is stopsel van strooi en jy sal deur vuur gered word. Hoe dit sal wees maak my vreesbevange om ander evangelies aan ander te leer wanneer jy God se tempel beskadig met valse leringe. Pas op wat jy op die fondasie bou, lees maar 1Korinthiers 3.

1Co 3:15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

1Co 3:16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?

1Co 3:17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

Indien jy so in desepsie was of iemand die desepsie leer en so God se tempel skend, is daar tyd om reg te maak en te bely voor God.

 Red Sunset thorns in Cornwall

Onskriftuurlike Toepassings en sienswyses van Die Bloed van Jesus Christus.

Eerstens is dit die Bloed van Jesus die Christus, die Goddelike uitstorting van volle Mens wat nie sy goddelikheid afgelê het nie, die deel van die Drie Eenheid, die hakskeen die laer deel van God as Mens. Die Messias se hakskeen. Ons gebruik van net die naam Jesus is nie voldoende nie. Dit is onse Here Jesus die Christus. Kyk maar na die Bloed Offer in die Apostels se briewe word dit Jesus Christus of onse Here Jesus Christus. Ons gebruik die naam Jesus so maklik en sonder respek. ʼn Sendelings vriend van my het ʼn voorbeeld genoem van hoe kragtig is die Naam van Jesus. Hy was in ʼn hysbak vol ander mense toe skreeu hy die naam van Jesus. Almal spring toe uit by die volgende vloer. Nee, hulle het gedink hy was mal.

Die bloed is net vir die verlossing van die mens se sonde waarop dit toegepas word.

Dit is genoegsaam en ʼn daad van God ons het geen bydrae by daardie daad in die sin van daardie bloed neem buite skriftuurlike verband en dit toepas as ʼn krag middel vir beskerming, ʼn towerstaf om vestings af te breek van sonde, of dit toe te pas teen die duiwel nie. Ons kan dit nie toepas op nasies te pleit nie, of geestelike sogenaamde sterkvestings van Satan nie. Ons kan nie teen Satan kom met die bloed van Jesus nie en hom sodoende enige skade aandoen nie. Dit kan nie offensief gebruik word nie maar slegs defensief in geloof daarin staande bly teen die magte van Satan. Kry ons nie skaam nie.

Jer 6:15 Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie

red sunset bird

Pleit die Bloed vir beskerming

Daar is geen skriftelike gronde om die Bloed te Pleit vir enige beskerming, oorlogvoering, of om die bloed oor nasies of om dorpe of stede te plaas nie, of enige offensiewe gebed of oorlogvoering te doen nie.

Ons is beveel om defensief te wees in die kennis van wat Jesus Christus vermag het op die kruishout, dit is God wat dit toepas oor die sondige mens, wat dit toepas vir ʼn voltooide beskerming teen Satan want die Heilige Gees beskerm ons teen die aanslae van Satan, Openbaring 12:14 maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.

Ons moet staande bly met die volle wapenrusting van God aan. Ons het geen mandaat om teen die Satan enige oorlog te voer nie vir die eenvoudige rede ons is beskerm in die opsig dat die Satan ons nie kan aanklae nie. Indien ons beskerming van ons afgehang het deur middel van die bloed te pleit dan was ons almal al dood in ons sonde want dit werk nie so nie. Die Satan en sonde is in God se diens om sy doel te bereik. Die Christen word nie uitgesonder teen dood, ongelukke, rampe, finansiële verlies en siekte nie. Inteendeel om soos diegene die bloed te pleit teen sulke gebeure werk teen God se plan in indien dit moontlik was.

Dit is ʼn patetiese strategie, gestroop van alle skriftelike waarhede, gee geen Eer aan God nie. Dit is geloofsatlete wat tevergeefs hierdie onbybelse wedloop hardloop in plaas van om die wedloop van geloof te hardloop en te volhard en die evangelie te verkondig. Dit is wat die geloof van God vermag het in die geestelike ruimte wat vir ons geopenbaar is. Maar indien ons die volle omvang van Christus se Kruisdood nie ken nie, sal ons met die gebrek aan daardie kennis nuttelose werke doen wat verbrand sal word.

Daardie bloed is nie vir fisiese beskerming teen siektes, dood, armoede, eiendom, ongelukke en rampe of teen Satan nie. Die bloed is nie daar om die Satan mee te beveg nie.

horses in red sunset

Slot en Opsomming

Heb 11:28  Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.

In die Nuwe Verbond is daardie toepassing van die Bloed vir onse suiwering van ons sonde en daarom kan die verderwer ons nie skade aandoen nie. Daardie bloed beskerm ons teen die Satan dat hy nie ons kan aanraak en beskuldig voor God nie. Sy plek is nie meer te vinde in die Hemel nie, hy is soos ʼn bliksemstraal neergewerp en gebind deur die bloed van Jesus op die Kruis. Ons kan net die Satan se huis stroop deur die verkondiging van die evangelie want die stryd is gestry, die oorwinning is voltooi op die Kruis waar die bloed gevloei het. Dit is deur die middel van die geloof in daardie bloed wat ons red. Paulus het nie die kosbare bloed so toegepas nie, dit is nie in die Bybel nie en wat nie in die Bybel is nie, behoort nie in die Kerk nie.

Jesus Christus is die middelaar, die laaste die vervulling van ʼn middelaar tussen ons en God, daar is geen ander middelaar wat tussen volke, tussen mense en God staan om op een of ander strategie Jesus se bloed te gebruik as middelaar nie.

Heb 12:24  en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel.

Ons bad in daardie bloed ons is onder die bloed, dit is aan ons deurkosyne vir beskerming teen die ewige dood. Ons is nie ʼn middelaar nie maar het die mandaat om die boodskap te verkondig, slegs die boodskap.

Heb 13:12  Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.

Kom nou diegene wat ʼn leersame gees het, wat die Woord as soewerein aanvaar, Sola Scriptura, wat ʼn gebroke gees het voor God het vir ons menslikheid, dit is nou die tyd om reg te maak met die Here ons verlosser.

Verkondig die Woord eenvoudig soos al die heiliges in die verlede dit suksesvol gedoen net met die prediking van die Kruis en die Bloed van die Lam, dit is Jesus se bloed alleen wat verlossing bring en die verkondiging van daardie Woord en nuwe, vreemde, strategie waarvan die vroeë kerk nie geweet het nie en nie nodig gevind is nie behoort nie in die Kerk nie. Die ware evangelie het nog nooit verander nie en enige towerkuns in die eeu van Aquarius van vreemde gode en vreemde geeste van ʼn ander evangelie as wat vir ons oorgelewer was is nie nodig nie en moet met afsku uitgewerp word.

Dit het nog nooit enige volk getransformeer nie, dit was nog nooit suksesvol nie, dit was nie suksesvol vir die Springbokspan nie, nie vir Suid Afrika nie, nie vir enige sondige toestand oor ʼn land of dorp nie, nie vir homoseksuele nie of vir die evangelie se bevordering nie.

Die wêreld gaan agteruit in alle opsigte, geen transformasie strategieë en sogenaamde geestelike oorlogvoering gaan ʼn titseltjie bydra by die verlossing van die mens nie, omrede God het dit vermag en ons bly staande in daardie oorwinning en verkondig die verlossing op die altaar van die Kruis en die bloed wat daar gevloei het, dit is die krag van God.

Kry ons nie skaam oor wat ons doen nie.

Co 15:34 Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

Nico Engelbrecht

 Red sunset Corliss township

Onse Vader van onse Here Jesus Christus, maak ons vry van ons self, help ons om net na Jesus Christus te kyk, ons oë op te slaan na ʼn Kruis met bloed bevlek. Vergewe ons van daardie dooie werke wat ons doen wat nie aan u die eer gee nie.

Dankie dat u ons vergewe het op die Kruisaltaar waar u bloed gevloei het vir my en dat ek daardie boodskap toevertrou is. Help my om dit getrou uit te dra soos u Apostels dit gedoen het. Vreesloos vir die duiwel, bereid om te sterwe, in die kennis van die oorwinning oor die vyand en staande in Die Geloof.

My getuienis is net van U en nie van myself nie.

Amen

Nico Engelbrecht

www.reformedtruth.co.za



Viewing all articles
Browse latest Browse all 2

Latest Images

Trending Articles





Latest Images